Kaapjag Sentraal Tak het op 25 Mei 2019 ʼn liefdadigheidskiet op Atlantis skietbaan aangebied om fondse in te samel vir die droogte geteisterde boere van die Sutherland omgewing. Die skiet het ʼn geleentheid gebied om vir oulaas die gewere se bene te rek voor die jagseisoen en om terselfdertyd by te dra tot ‘n saak wat naby aan alle jagters se harte lê. Die geleentheid volg op ʼn soortgelyke en baie suksesvolle skiet wat in 2018 deur Sentraal Tak aangebied was. Sentraal Tak se doelwit vanjaar was om hierop te bou en selfs die sukses van verlede jaar te oortref.
Die Gift of the Givers was deur die bestuur van Sentraal Tak gekies as die liefdadigheidsorganisasie waaraan die opbrengs van die skiet geskenk sal word. Die organisasie het ʼn geskiedenis van droogte hulp aan boere in die omgewing en het ook die infrastruktuur om verspreidingswerk te doen. Aangesien die opbrengs van die veldtog geoormerk was om veevoer aan te koop vir die Sutherland boere was die Gift of the Givers ʼn ideale vennoot.
DIE IMPAK VAN DIE VOORTGESETTE DROOGTE IN SUTHERLAND
Die voortgesette droogte het ʼn verwoestende impak op die boerdery gemeenskap van Sutherland gehad oor die afgelope ses jaar. Volgens Hester Obermeyer van die Save the Sheep projek in Sutherland, het die getal skape in Sutherland afgeneem van 400 000 in 2014 tot 66 000 in 2019. ‘n Groot bekommernis is die risiko dat volgehoue verliese die genetiese poel wat oor baie jare in die omgewing opgebou is, kan bedreig. Me Obermeyer het beklemtoon dat voer benodig word om hierdie verliese oor die winter te beperk. Die boere en gemeenskap se reserwe bronne is al vir ʼn geruime tyd uitgeput aangesien dit onmoontlik is om bronne op te bou vir ʼn droogte wat vir so lank aanhou. Baie van die boere het nie meer genoeg fondse vir diesel om dorp toe te ry nie. Hierdie gemeenskap, wat gewoond is aan die geharde omgewing en klimaat van die Karoo, word dus tot op sy uiterste beproef.
‘N SKIET OM OOR HUIS TOE TE SKRYF
Aangesien die skietkalender vol is met ʼn verskeidenheid skiete om van te kies, het Sentraal Tak se meester baanbouerspan, Anton de Bruyn en Eben Strydom, van dag een af beplan aan ʼn besonderse lekker skiet, een om oor huis toe te skryf! Die span se baanbou ondervinding en vernuf was duidelik sigbaar in die 5 uitdagende gong bane, vir beide senterslag en randslag kompetisies, wat die skuts op die dag kon geniet. Daar was ook ʼn man of muis baan in altwee dissiplines en ʼn 500 meter gong vir die skuts wat hulle ballistiese koëffisiënte tot die uiterste wou beproef.
Die weer het mooi saam gespeel en die 25ste Mei het ‘n perfekte dag vir skiet opgelewer. Dit was duidelik dat die 35 skuts wat deelgeneem het die geleentheid terdeë geniet het. Anton en Eben het die bane so opgestel dat daar iets vir almal was en dat die beste skuts steeds moes fynskiet om op die podium te kom. Die hoofborg van die skiet, Guns & Bows, het gesorg vir pragtige medaljes vir al die kategorie wenners. Om alles mee te kroon was die dag afgesluit met ʼn “lucky draw” trekking en ‘n veiling van verskeie skietprodukte, geskenk deur Guns & Bows en VGK Firearms, sowel as ʼn aand se verblyf by die luukse Kingna Lodge in Montagu. Daar was veral groot opgewondenheid toe Yaseen Hanware, voorsitter van Sentraal Tak, ʼn .22 geweer wat deur VGK Firearms geskenk was op die veiling gekoop het vir een van die seuns wat aan die skiet deelgeneem gegee het. Mnr Hanware het dit as ʼn ideale geleentheid gesien om te belê in die volgende geslag van Kaapjag skuts. Die opbrengs van die skiet, tesame met fondse wat deur donateurs geskenk was is op 26 Junie by die Kaapjag kantore in Durbanville aan die Gift of the Givers oorhandig.
VERSKEIE BYDRAES VERSEKER SUKSES
Sentraal Tak se 2019 liefdadigheidskiet was, danksy die bydraes van verskeie individue en maatskappye, ʼn oorweldigende sukses en ʼn totale bedrag van R 70 000 is aan die Gift of the Givers oorhandig. Die bestuur van Sentraal Tak is veral dankbaar teenoor Anton de Bruyn, sonder wie se voortgesette entoesiasme hierdie geleentheid nie sou plaasvind nie. Verskeie maatskappye, insluitend Guns & Bows; VGK Firearms; Hi-Q Amandla Tyres; Kingna Lodge; Land Rover N1 City; MIT Auto Parts en YES Electrical Wholesalers het ruimhartig bygedra tot die fondsinsamelingsveldtog. Buiten hierdie maatskappye is Sentraal Tak dankbaar vir die bystand van die Gift of the Givers, wat nie net die logistiek van die oorhandiging hanteer het nie, maar wat ook die kostes van die vervoer van die veevoer na Sutherland gedek het. Die poel van donasies is verder verdiep deur individuele bydraes van David Dauncey, Henri du Toit, Jeff Petty, Hein de Swardt, Greg Sykes en Jaco Van Der Merwe. Die bestuur van Kaapjag Sentraal Tak bedank graag alle donateurs en ook die deelnemende skuts vir hulle bydraes tot die sukses van Kaapjag Sentraal Tak se 2019 liefdadigheidskiet. Daar word reeds uitgesien om op die momentum van vanjaar se skiet te bou met die oploop na die 2020 Sentraal Tak liefdadigheidskiet!
Companies Donations:
Guns & Bows
Hi-Q Amandla Tyres
Land Rover N1 City
MIT Auto Parts
VGK Firearms
YES Electrical Wholesalers
Individual Donations:
David Dauncey
Henri du Toit
Jeff Petty
Greg Sykes
Jaco Van Der Merwe
June 30, 2019